Met NGV sal ongekende vlakke van korrupsie plaasvind - Rapport

Oplettende lesers van die nasionale tesourie se 2023-begrotingsoorsig, ’n gepoleerde dokument van 280 bladsye wat Suid-Afrika se staatsfinansies in oorvloedige besonderhede uiteensit, sou opgemerk het dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) net vier keer genoem word.

John Endres

Oplettende lesers van die nasionale tesourie se 2023-begrotingsoorsig, ’n gepoleerde dokument van 280 bladsye wat Suid-Afrika se staatsfinansies in oorvloedige besonderhede uiteensit, sou opgemerk het dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) net vier keer genoem word.

Elkeen van daardie gevalle verwys na dieselfde ding: ’n Indirekte NGV-toekenning om die bou van die Limpopo Sentrale Hospitaal in Polokwane moontlik te maak.

Dat die bou van ’n hospitaal in Limpopo die enigste melding van die NGV is, is verbasend. Dit is omdat dit die NGV-wetsontwerp, waarvoor die Nasionale Vergadering (NV) op 13 Junie gestem het – en wat waarskynlik die enkele duurste projek is wat ooit in die geskiedenis van Suid-Afrika van stapel gestuur is – ’n stap nader aan realisering bring.

Dit is merkwaardig dat die tesourie nie meer aandag daaraan gegee het nie, wat dalk die feit weerspieël dat hy nie die NGV as ’n ernstige voorstel beskou nie en dit nie met sy aandag wou verheerlik nie.

Hoe duur sal die NGV wees? Die waarheid is dat niemand weet nie. Die lede van die parlement wat gestem het om die NGV-wetsontwerp te aanvaar, weet nie. Die minister van finansies, Enoch Godongwana, weet nie. Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, weet nie. En sy voorganger, dr. Zweli Mkhize, wat bedank het oor die Digital Vibes-skandaal, het ook nie geweet nie.

Mkhize het in 2019 gesê die jaarlikse koste sal waarskynlik die gesamentlike totaal van R470 miljard van openbare en private gesondheidsbesteding daardie jaar oorskry. Om dit in konteks te stel: Die enkele grootste uitgawe-item in die 2023-’24-begroting was die diens van staatskuld waarvoor R340,5 miljard begroot was, gevolg deur basiese onderwys teen R309,5 miljard. Die NGV sal hierdie twee uitgawe-items verdwerg en kan boonop uiteindelik meer kos as daardie twee items saam. Niemand weet vir seker nie.

Maar nietemin, Mkhize sowel as Phaahla is vasbeslote dat die NGV moet voortgaan “ongeag die koste”. Dit ten spyte van die feit dat die Davis-belastingkomitee so ver terug as 2017 reeds gewaarsku het dat die NGV “onwaarskynlik volhoubaar sal wees tensy daar volgehoue ekonomiese groei is”. In 2019 het die nasionale tesourie bygevoeg dat die koste van die NGV “nie meer bekostigbaar is nie”, gegewe die land se “makro-ekonomiese en fiskale vooruitsigte” wat, moet ’n mens byvoeg, sedertdien baie versleg het.

Ons weet nie hoeveel die NGV gaan kos nie, en ons weet ook nie hoe daarvoor betaal gaan word nie. Die bestaande gesondheidsbegroting (R259,2 miljard) sal vermoedelik geheel en al aan die NGV gewy word. Maar dit laat steeds ’n tekort van miskien R250 miljard per jaar, of selfs meer. Daarvoor sal bykomende belasting gehef moet word, waarskynlik ’n inkomstebelasting-toeslag en ’n betaalstaatbelasting. Die regering het gesê dat bykomende belastingbetalings laer sal wees as huidige mediesefondsbydraes, maar dit is onduidelik of dit waar is – en die las op ’n reeds klein belastingbasis sal swaar wees.

Daar is ook geen sekerheid dat ’n NGV-belasting vir NGV-doeleindes gereserveer sal word, eerder as om vir algemene staatsbesteding beskikbaar gestel te word nie. Dit is ’n resep vir onderfinansiering en korrupsie. Een van die sleuteldoelwitte van die NGV is om die huidige “tweevlak”-gesondheidstelsel te beëindig, met sy afsonderlik gefinansierde en geadministreerde openbare en private sektore. Die NGV-wetsontwerp poog eerder om alle gesondheidsgeld en ander hulpbronne in ’n enkele fonds onder staatsbeheer saam te voeg. ’n Mens kan jou net die geleenthede vir korrupsie voorstel.

Afgesien van die vooruitsigte van ’n patronaatskap-bonanza om alle bonanzas te oortref, wat kan die ANC motiveer om so ’n verwoestende skema te volg? Deels is dit dalk die begeerte om die party se bevlekte beeld voor die 2024-verkiesing te poets. Watter beter manier om die aandag af te lei van die mense in Hammanskraal wat aan cholera sterf as ’n spoggerige nuwe gesondheidsplan?

Die NGV is nie net ’n skema wat finansieel onverantwoordelik is nie, maar ook dreig om Suid-Afrika se wêreldklas- private mediese sektor te vernietig.

Maar ’n verdere aspek om te oorweeg is dat die konsep van die NGV nie nuut is nie. Dit kan teruggevoer word na die Freedom Charter van 1955, wat die ANC dikwels as sy rigsnoer beskryf. Dit vra vir “gratis mediese en hospitaalsorg vir almal”, tesame met “ ’n voorkomende gesondheidskema wat deur die staat voorsien word”.

Die NGV-voorstel is in 2007 by die ANC se Polokwane- nasionale konferensie onderskryf en is toe uitgebrei in ’n groenskrif in 2011, ’n konsepwitskrif in 2015, ’n finale witskrif in 2017, ’n aanvanklike NGV-wetsontwerp in 2018 en ’n hersiene NGV-wetsontwerp in 2019.

Die Wetsontwerp is in Mei 2023 deur die portefeuljekomitee oor gesondheid onderskryf, vroeër hierdie maand deur die NV goedgekeur, en moet nog net deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur word. Met ander woorde, dit kom al van ver af, dit begin nou net vinniger beweeg. Dit is deurgaans deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) teëgestaan en ons sal voortgaan om dit teen te staan met al die hulpbronne tot ons beskikking.

Die NGV is nie net ’n skema wat finansieel onverantwoordelik is nie, maar ook dreig om Suid-Afrika se wêreldklas- private mediese sektor te vernietig. Mediese beroepslui dreig reeds om die land te verlaat as die NGV geïmplementeer word. Wat sal oorbly van Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel sonder dokters en verpleegsters en met fasiliteite wat uitmekaar val onder die NGV?

Middelklas-Suid-Afrikaners sal emigreer, wat die belastingbasis vernou en dit moeiliker maak om alle staatsdienste te finansier. Ekonomiese groei en belastinginkomste sal waarskynlik afneem, terwyl die rand verder kan verswak. Dit sal inflasie en skulddienskoste verhoog en ingevoerde medisyne, toestelle en ander items toenemend onbekostigbaar maak.

Die NGV is ’n katastrofiese voorstel, nie net vir gesondheidsorg nie, maar vir die hele ekonomie.

As jy nog nie jou teenkanting teen die NGV uitgespreek het nie, is dit nou die tyd om dit te doen. Skryf aan jou mediese fonds en vra hulle wat hulle doen om die NGV teen te staan. Skryf aan ANC-parlementslede en vra hulle of hulle dit ernstig oorweeg om vir die NGV te stem sonder om te weet hoeveel dit presies gaan kos. As jy vriende het wat die ANC ondersteun, vra hulle of hulle verstaan wat die NGV aan Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte en lands­belang gaan doen. En laastens: Ondersteun die burgerlike organisasies, soos die IRV, wat hierdie stryd namens jou stry.

John Endres is uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge.

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/met-ngv-sal-ongekende-vlakke-van-korrupsie-plaasvind-20230618