Los Orania-debat en fokus op SA se groei - Rapport

Oudregter Johan van der Westhuizen en prof. Koos Malan tree die laaste paar weke op hierdie blaaie tot die Orania-debat toe – grootliks deur mekaar van rassisme te beskuldig.

Gabriel Crouse 

Oudregter Johan van der Westhuizen en prof. Koos Malan tree die laaste paar weke op hierdie blaaie tot die Orania-debat toe – grootliks deur mekaar van rassisme te beskuldig.
In die proses slaag nie een van hulle om die politieke risiko’s van Orania se jongste poging tot legitimiteit te verreken nie – die feit dat die VF Plus tot die RNE toegetree het met die voorneme om hom ook te beywer vir die groter erkenning van Orania ingevolge art. 235 van die Grondwet.

Daar word dikwels geskryf hoe lekker dit is om in Orania te kuier, maar minder word gesê oor wat amptelike “erkenning” ingevolge art. 235 beteken. En oor die politieke koste van hierdie “erkenning” word nooit enigiets gesê nie.

Om die politieke koste te verreken kan mens sommer begin deur te kyk wat die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, reeds reggekry het sedert hy lid van die RNE-kabinet geword het.

As minister van korrektiewe dienste het hy binne dae nadat hy sy pos aanvaar het, begin om ondersoeke na die gevangenisstelsel van stapel te stuur. Dit is buitengewoon belangrike werk aangesien Suid-Afrika een van die hoogste koerse ter wêreld het van misdadigers wat herhaaldelik in die tronk beland.

Ongelukkig gaan die probleme in ons tronke nie oor ’n paar maande met ’n handvol vinnige ondersoeke opgelos word nie.

Groenewald het meer tyd nodig om hierdie werk te doen en uiteindelik grootskaalse verandering teweeg te bring.

As hy die tyd en ondersteuning kry om ministeriële sukses te behaal bestaan die moontlikheid dat hy net nóg meer geleenthede gaan kry om verdere sukses te behaal.

Polities gesproke behoort die welverdiende aandag en gewildheid wat spruit uit sulke goeie werk die VF Plus te help om te verbeter op sy onlangse swak vertoning by die stembus.
Groenewald maak dus in die proses nie net van die land ’n beter plek nie – uit ’n politieke oogpunt dien hy ook die party se ondersteuners en uiteindelik ook die party self.

Die party se art. 235-steun aan Orania doen net die teenoorgestelde. Ondersteuning vir groter onafhanklikheid vir Orania hou nie net ’n gevaar in vir Groenewald se vermoë om as ’n lid van die RNE-kabinet beter uitkomste vir sy portefeulje te verseker nie, dit hou voordele in vir al die nuwe, energieke ministers in die RNE-kabinet.

Teoreties het Groenewald vyf jaar om ’n gedissiplineerde en professionele gevangenisstelsel te bou. Daardie tyd kan egter maklik deur politieke flaters verkort word.

Die VF Plus en die DA sukkel reeds in Oudtshoorn, waar die een die ander se burgemeester vervang het. Selfs ou alliansies kan wankel, ongeag wie reg is.

Die verhouding tussen die belangrikste partye in die RNE sal al hoe moeiliker word namate die 2026-verkiesing naderkom.

Die VF Plus se roete om sy verteenwoordiging in die parlement, wat onlangs amper gehalveer het, te verbeter, is om tussen nou en 2029 ’n blywende en doeltreffende invloed uit te oefen. As die RNE voor dan sink, moet die party seker maak dat dit nie hulle is wat die spulletjie laat skipbreuk ly nie.

Waarom plaas ondersteuning vir Orania dit alles in gevaar?

Orania is ’n ras-eksklusiewe dorp wat werk en verblyf betref met die ambisie om van ’n tipe “volksdorp” na die hoofstad van sy eie volkstaat te transformeer.

Dit is ’n ooglopende, maar on¬wel¬kome feit om uit te wys.
Orania-leiers sê gereeld dat hulle onregverdig deur die media gestigmatiseer word.

Met die aantyging moet mens egter versigtig omgaan. Hoewel dit waar is dat die media dikwels te gou is om mense van rassisme te beskuldig (die mees onlangse voorbeeld hiervan is die valse bewering van rassisme teen 12 wit tienermeisies in Pretoria wat van rassisme beskuldig is bloot omdat hulle aan ’n WhatsApp-groep behoort het waar almal wit was), is dit nie die geval met Orania nie.

Om die waarheid te sê is hulle eerder ’n liefling van die media.

Prof. Burger Senekal se mediastudie oor hoe Orania in die media uitgebeeld word, het bevind dat tussen 2013 en 2022 tweederdes van Engelse mediaberigte neutraal of positief was en 75% van berigte in die Afrikaanse media positief of neutraal was.

’n Goeie voorbeeld is die feit dat Van der Westhuizen en Malan se artikels waarna ek vroeër verwys het, afgesluit het met besonder positiewe verwysings na Orania.

Op Van der Westhuizen se vraag of sy vrou, wat van Indiese afkoms is, ongestoord in Orania se strate kan rondloop, het die antwoorde volgens Van der Westhuizen gewissel van “ek hoop nie” en “miskien” tot “ongelukkig waarskynlik wel”.

“Bravo,” het van der Westhuizen afgesluit – en dit vir die dorp waar sy eie vrou weens haar ras nie welkom is nie.

Daardie “bravo” is egter nie heeltemal so verbasend nie.

’n Dekade gelede het Van der Westhuizen as regter ’n uitspraak onderskryf waarin die konstitusionele hof dit aanvaarbaar gevind het dat ’n wit vrou (Renate Barnard) bevordering in die polisie ontsê kon word. Met ander woorde, hy het al tevore bravo gesê vir rasse-uitsluiting – en daardeur Suid-Afrika benadeel.

Maar die belangrikste punt hier is dat daar geen aanduiding is dat Van der Westhuizen se artikel van vooroordeel teen Orania spreek nie.

Ook Malan het nie met die waarneming verskil nie.

As die VF Plus meer voorbeelde wil hê van Orania-aanhangers wat uitwys dat die volksdorp in ’n mate ras-eksklusief is, sal hulle dit maklik vind.

Ondersteuning vir Orania is dus skadelik om universele menslike redes. Maar in die tweede plek is dit ook polities skadelik.

Gestel Orania word oor ’n paar maande amptelik deur die regering erken danksy die VF Plus se ooreenkoms. Die voorstanders van nierassigheid binne die RNE sal erge probleme hiermee hê en dit sal die voortbestaan van die RNE bedreig.

Vir die partye buite die RNE sal dit politieke manna uit die hemel wees. Die EFF-MK se grootste kritiek teen die RNE is juis dat dit die land terugneem na die apartheidsdae. En watter VF Plus-ondersteuner sal tevrede wees met die feit dat hul party se optrede die deur vir Lesufi en Malema oopgemaak het?

En boonop sal die onteiening- sonder-vergoeding-brigade kan sê dat wit mense die grondgebied gekry het wat hulle wou gehad het – nou is dit hulle beurt om te eet.
Die VF Plus kan groei deur hul posisie in die RNE te gebruik om ’n positiewe impak te hê op dienslewering.

Daar is diegene wat glo daar is politieke munt te slaan uit die verdeling en ontbinding van die land op ’n wyse wat grondwetlik verdedigbaar is.

CapeXit sê hulle het sowat 800 000 handtekeninge ingesamel van individue wat in hierdie ideaal glo en miskien het die VF Plus geglo dat hulle ondersteuning vir afstigters soos dié ook vir hulle stemme sou wen. Dit het nie gebeur nie. Die Referendum-party het nie eens genoeg stemme gekry vir een setel nie.

Die beter opsie is eenvoudig en kom van my laerskool se leuse: “Groei.”

Die VF Plus kan groei deur hul posisie in die RNE te gebruik om ’n positiewe impak te hê op dienslewering. Die party het die unieke geleentheid om ondubbelsinnig groeipolitiek voor ras-eksklusiewe volkspolitiek te stel.

Die beloning is ’n wen-wen-situasie vir almal van ons.

Gabriel Crouse is verbonde aan die Instituut vir Rasseverhoudinge

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/los-orania-debat-en-fokus-op-sa-se-groei-20240809