Gee hom kat se kans - Rapport

2 February 2020 - Die voormalige Johannesburgse DA-burgemeester Herman Mashaba beloof om teen Junie vanjaar ’n nuwe politieke party op die been te bring wat wil deelneem aan die munisipale verkiesing volgende jaar. Daar is heelwat wat in Mashaba se guns tel.

Frans Cronje

Die voormalige Johannesburgse DA-burgemeester Herman Mashaba beloof om teen Junie vanjaar ’n nuwe politieke party op die been te bring wat wil deelneem aan die munisipale verkiesing volgende jaar.

Daar is heelwat wat in Mashaba se guns tel.

Ondersteuning vir die ANC taan vinnig.

Daar is nou meer mense in die land wat stemgeregtig is en nie stem nie as wat daar kiesers is wat vir die ANC stem.

Suid-Afrika is ’n oorwegend verstedelikte samelewing, maar tog trek die ANC nou minder as die helfte van hul stemme uit die stede.

Die opvoedingsprofiel van Suid-Afrikaners, ten spyte van ons onderwysstelsel, verbeter voortdurend terwyl ANC-steun onder opgevoede kiesers aan die afneem is.

Meningspeilings deur die Instituut vir Rasseverhoudinge suggereer ook dat, in ’n land waar net 35% van die bevolking ouer as 35 is, die ANC die stryd om die jeugstem verloor het.

Mashaba se boodskap van die afgelope paar weke tref die teiken sekuur.

Histories korreleer ANC-steun met die land se ekonomiese vooruitsigte, en dié prentjie lyk op die oomblik bedroewend – en sal vir die afsienbare toekoms waarskynlik so bly.

Tog is min partye in die opposisiebanke in staat om die ANC se benarde posisie doeltreffend uit te buit. Die DA het beduidende steun verloor en hul langtermynvolhoubaarheid is steeds nie gevestig nie, en die EFF se rasse-nasionalistiese populisme geniet volgens ons meningspeilings beperkte steun.

Dis teen hierdie agtergrond wat Mashaba die arena betree.

Mashaba is ’n interessante kêrel – eiegemaakte miljoenêr met eerstehandse kennis van die gevolge wat teenproduktiewe regeringsregulasies vir entrepreneurs en werkgewers inhou.

Mashaba was baie jare lank ’n leidende figuur in die Vryemarkstigting, waar hy baie moeite gedoen het om die sosialistiese dogma van sowel die ANC as die ou NP bloot te lê.

Hy is nie bang om ongewilde standpunte in te neem nie en is enig onder sakelui in sy kritiek teen rasgegronde swart ekonomiese bemagtiging, regstellendeaksieprogramme en rasse-nasionalistiese sondeboksoekery in die algemeen.

Hy was baie entoesiasties toe hy hom by die DA aangesluit het (mense vergeet van sy ondersteuning van Helen Zille), en as burgemeester van Johannesburg is sy prestasiegeskiedenis gekenmerk deur outydse gesonde verstand.

Die burgemeesterskap het hom van aangesig tot aangesig gebring met die volle gruwel van ’n ANC-regering wat die land oor die afgrond gestuur het, en miskien ook tot die besef laat kom dat daardie gruwels nie bietjie vir bietjie ongedaan gemaak kan word nie, maar dat ’n fundamentele nasionale politieke herskikking nodig is.

Sou Carl von Clausewitz ooit vir Sun Tzu ontmoet het, sou die twee saamgestem het dat “alle politiek gegrond is op misleiding”. Dit kan ’n nare en vuil besigheid wees, maar die heer Mashaba het al gewys dat hy oor die persoonlikheid beskik om dié spel te speel.

As burgemeester van Johannesburg – en in stryd met sy Vryemarkstigting-verlede – het hy hom beywer vir sterk optrede teen ongedokumenteerde immigrante en strenger grensbeheermaatreëls. Dis ’n siening wat hy steeds huldig.

Sy verbintenis met die EFF, om die DA se alliansie in die stad in stand te hou, het baie verras, gegewe sy standpunte oor korrupsie, rassevooroordeel en wangedrag. Hy het bewerings van korrupsie teen sy EFF-vennote mooitjies gesystap en goed gedoen om te voorkom dat die implikasies hiervan in die media geventileer word.

Sy ommekeer oor ’n rasgegronde bemagtigingsbeleid toon ’n vermoë tot politieke plooibaarheid.

Sy uittrede uit die DA was politieke drama van die hoogste orde en hy het dit goed reggekry om die media agter hom te verenig. Dié media-aandag het hy bekwaam uitgebuit om lugtyd te verseker vir die bekendstelling van sy party, nog ’n teken van sy politieke vaardigheid.

Maar hoe pas dit in by die huidige politieke prentjie?

Staar lank genoeg na die meningspeilings en verkiesingsuitslae en een van die dinge wat na jou terugkyk, is die hoeveelheid konserwatiewe (met ’n kleinletter “k”) kiesers. Kleinletter-konserwatiewe mense is nie klassieke liberale nie (net soos liberale nie libertyne is nie). Hulle het ’n paar dinge in gemeen met liberale (en libertyne) – soos die teenstand teen sosialisme en die belangrikheid van beleggingsgedrewe groei.

Kleinletter-konserwatiewes meng (en weerspreek soms) hierdie beginsels met nasionalistiese retoriek, ’n populistiese houding en ’n versmelting van die grense tussen feit en fiksie.

Die beste opsomming van pres. Donald Trump bly dié van The Spectator, wat hom beskryf het as ’n buitengewone man wat geen onderskeid tref tussen feit en fiksie nie en aanvaar dat almal anders dit ook doen.

In praktiese sin sal liberale hul afkeer aan sosialisme demonstreer en glo in die belangrikheid van ’n klein en doeltreffende staat wat met ’n ligte en intelligente hand reguleer. Hulle glo in billike belasting, dat beleggings wat deur die private sektor gelei word die sleutel is tot die verhoging van lewenstandaarde, dat immigrante verwelkom moet word en dat bemagtigingsbeleid belangrik is, maar gegrond moet wees op werklike sosio-ekonomiese agterstande en nie op ras nie.

Terwyl hulle ’n allergie vir sosialisme deel, sal libertyne gekant wees teen enige vorm van sentrale gesag en regulering. Hulle beskou belasting as diefstal, hulle stem saam met die private sektor en verwelkom immigrante, maar verwerp die behoefte aan ’n bemagtigingsbeleid heeltemal.

Kleinletter-konserwatiewes kan ook hoogs allergies vir sosialisme wees, maar verwelkom ’n magtige staat, sal aandring op belastingverlagings, saamstem oor die belangrikheid van beleggings (in die private sektor of andersins), ’n populistiese nasionalistiese beleid oor immigrasie aanvaar en ’n rassistiese nasionalistiese beleid voorstaan indien dit polities voordelig is.

So. Wat maak die politieke tydsgees van die gewone mense?

Die volgende beskrywing kom naby daaraan: Kiesers is moeg vir die ANC, verafsku die regering, is skepties oor die rol van die staat in hul lewe, is ietwat opgesweep deur die populistiese aanbod wat beskikbaar is (van “immigrante neem ons werk” tot “die herverdeling van rykdom is belangrik” tot “ongelykheid is die grootste euwel”), maar wil vooruitgaan in die lewe, ryk word (ongeag die uitwerking op ongelykheid) en hul eie eiendom hê.

Mashaba se boodskap van die afgelope paar weke (en hier parafraseer ek effe) tref hierdie teiken sekuur.

Dit wissel van die generiese “dit is tyd vir verandering” tot “sosialisme is nonsens”, “verhoogde belasting is nie die antwoord nie” en “die immigrante vat ons werk af”.

Wat verder in sy guns tel, is dat hy baie ryk is en homself kan finansier –hoewel daar rede is om te glo dat hy wel donateurs sal kry om sy beleid te ondersteun.

Laastens, net soos in Amerika en Brittanje die geval is (waar kleinletter-konserwatiewes op die oomblik aan die bewind is), is Suid-Afrika ’n fundamenteel vrye en oop demokratiese samelewing. Roer net die slagspreuk “Make South Afri­ca great again” in die pot en jy het die volle pakket.

Die grootste struikelblok vir Mashaba is dat hy nie die ervaring het om ’n volhoubare politieke organisasie op die been te bring nie. Maar deskundiges soos dié kan gekoop word.

Liberale (soos dié wat die DA na bewering weer wil lok) en konserwatiewes sal altyd sukkel om vreedsaam in dieselfde party te bly. Die beginselvaste sal altyd met die populistiese bots en die twee sal baklei en die politieke invloed wat hulle saam kan hê negeer.

Maar bevry hulle van mekaar en gee hulle die ruimte om hul eie bewegings op te bou, en hulle kan mettertyd en by geleentheid bondgenote word in die wêreld van realpolitik waar regerings en alliansies gevorm moet word.

Oor die wêreld heen word sosialistiese (of links-leunende) regerings deur konserwatiewe bewegings verslaan. Vir sommige liberale is die verligting dat dit gebeur so groot dat hulle dit met applous begroet. Dit is ’n gevaarlike ding.

As Mashaba enigsins suksesvol is met sy nuwe onderneming, moet liberale in Suid-Afrika die implikasies daarvan opweeg en besluit waar hulle staan, veral omdat die ANC, die grootste speler in die mark, steeds volhou met ’n soort sosialistiese dogma wat nog nooit elders in die wêreld suksesvol was nie.

Vir liberale is ’n baie duidelike prentjie van sowel die bos as die bome nodig om die risiko’s, geleenthede en teenstrydighede in die proses raak te sien.

Dr. Frans Cronje is hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge.

Hierdie artikel is ’n geredigeerde weergawe van ’n artikel wat op www.dailyfriend.co.za gepubliseer is.

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/gee-hom-kat-se-kans-20200201