Die IRV neem stryd oor eiendomsreg na buiteland - Maroela Media

26 June 2018 - Die IRV se toer na die buiteland vorm die tweede fase van on stryd teen onteiening sonder vergoeding (OSV).

Marius Roodt

Leierfigure van die Instituut van Rasseverhoudinge (IRV) is hierdie maand op pad na verskeie hoofstede in die buiteland met hul veldtog om die eiendomsreg van alle Suid-Afrikaners te beskerm.

Frans Cronje, uitvoerende hoof van die IRV is reeds in die VSA, en Terence Corrigan, projekbestuurder, beplan om hierdie week nog na Europa en Engeland te vertrek om met beleggers, ontleders en ander belangstellende partye te vergader betreffende die implikasies van die voorgestelde beleid van onteiening sonder vergoeding (OSV).

Die gevare van OSV en die langtermyngevolge wat dit op Suid-Afrika en al sy mense sal hê, vorm deel van die IRV-veldtog.

Ná verskeie inisiële openbare en privaat vergaderings verlede week in Washington, het Cronjé die volgende te sê gehad: “Daar is sonder twyfel partye in die Amerikaanse hoofstad wat ongemaklik voel oor die wyse waarop Suid-Afrika sy verhoudinge met die VSA hanteer en wat glo dat Pretoria probeer misbruik maak van die VSA se goedgesindheid. Daarby is hulle bekommerd oor hoe die OSV-kwessie Suid-Afrika se VN-stemrekord gaan beïnvloed en die toekoms van VN-Suid-Afrika-verhoudinge sal affekteer.

Min gebeure het Suid-Afrika in die verlede so aangegryp soos die OSV-kwessie – dit sal geensins ’n oordrywing wees om te sê dat dit die mees belangrike beleidsdebat is wat in ons land gehou sal word sedert onderhandelings om apartheid te beëindig en ’n nuwe konstitusie in die vroeë- en middel negentigs te implementeer nie. Daar bestaan ’n aantal wanopvattings oor die OSV, en die IRV het intussen hard gewerk om te verseker dat die publiek bewus is van die gevolge indien hierdie beleid geïmplementeer sou word.

Een van die grootste misdade van apartheid-Suid-Afrika was dat die eiendomsregte van swart Suid-Afrikaners onseker was. Maar onder ’n bewind met ’n OSV-beleid, sal die eiendomsregte van álle Suid-Afrikaners onseker wees. Dit sal ’n klap in die gesig wees teen alle sosiale en gemeenskaplike vooruitgang wat sedert die einde van apartheid in 1994 gemaak is. Gemiddelde inkomstes sal vinnig daal, dienslewering sal verder agteruitgaan en daar sal ’n uittog van belegging en vaardighede wees – en hierdie keer sal dit nie slegs wit Suid-Afrikaners wees wat die land verlaat nie.

’n Gemeenskap waar eiendomsreg nie ’n sekerheid is nie (wat beslis die geval in Suid-Afrika sal wees indien die OSV geïmplementeer word) kan nie voorspoedig wees nie – ’n mens kan maar net kyk na die mislukte sosialistiese eksperimente van die 20ste eeu, die meer onlangse ekonomiese rampe van Venezuela en, op eie drumpel, Zimbabwe.

Voorts is eiendomsreg die hoeksteen van enige demokrasie. ’n Gemeenskap waar mense se eiendomsreg verseker/veilig is, is ’n gemeenskap waar individue teen ongewenste ingryping deur die regering, beskerm word. ’n Gemeenskap wie se eiendomsreg seker en veilig is, beteken dat die mense ook veilig kan wees in die wete dat hul bates hulle s’n is, gepaardgaande met die nodige waardigheid wat dit verskaf, en dat dit nie arbitrêr op beslag gelê kan word nie.

Hiervoor, vir die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners, het die IRV sedert 1929 geveg en sal voortgaan met die stryd so lank as wat dit nodig blyk te wees.

Die IRV se toer na die buiteland vorm die tweede fase van ons stryd teen OSV en volg op die eerste fase wat verskeie aspekte behels het. Een daarvan was die uitgebreide dekking in die media betreffende ons standpunt oor OSV en eiendomsregte – albei is gedoen deur middel van meningstukke asook onderhoude met verskeie nuuskanale.

Ons eerste fase het ons voorlegging aan die parlement op 15 Junie ingesluit. Hierdie voorlegging het ons op die IRV se webblad beskikbaar gestel, waar lede van die publiek dit kon onderskryf. In minder as twee weke het nagenoeg 60 000 Suid-Afrikaners uit verskillende lewens- en kultuurvlakke die voorlegging onderskryf – waaruit ons ons argument en stryd teen OSV uiteengesit het. IRV-personeellede het selfs Kaapstad toe gereis om ons voorlegging, sowel as die voorleggings van ander wat dit onderskryf het, persoonlik aan die parlement te oorhandig.

Frans Cronje het reeds met ’n wye verskeidenheid van belangstellende partye vergader, insluitend verteenwoordigers van die Amerikaanse regering. Tydens sy besoek aan die VSA, het hy ’n kragtige toespraak by die hoogaangeskrewe Cato Instituut gelewer oor die bestaande rigting wat ons land inslaan. By die Cato Instituut het hy ook ’n omvattende dokument bekendgestel waarin die gevare van OSV asook moontlike oplossings vir die land se grondhervormingsvraagstuk uiteengesit is.

Daarbenewens het Cronje ook met lede van die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington DC ontmoet – die IRV het hom daartoe verbind om ’n oplossing vir die debat oor OSV te vind, en onderhandelinge met ons regering is van kardinale belang om só ’n weg te vind na volhoubare en ekonomies uitvoerbare grondhervorming.

Die IRV is bekend vir die gehalte van sy ontledings en die werk wat ingesit word om toekomstige ontwikkelings te modelleer, en ons wil hierdie vaardighede op ons buitelandse toer inspan om ’n eerlike assessering voor te lê aan diegene wat om advies gevra het. Ons wil die oordrywing en grootspraak, wat in sekere gebiede reeds posgevat het, en die selfvoldaanheid wat in ander heers, voorkom. Ons wil ook die ontwikkelings ten opsigte van OSV binne die kort- en langtermynkonteks daarstel.

Die derde fase van ons veldtog teen OSV sal ’n bekendmaking wees van ’n antwoord op die grondhervormingsvraagstuk, gepaardgaande met beleidoplossings wat op bewyse gebaseer is. Vir ons land sal dit nie alleen ’n weg vorentoe bied nie, maar ook ’n voorstel wees om grondhervorming op só ’n wyse aan te pak dat daar behoorlik aandag gegee sal word aan onregte in die verlede sonder om die ekonomie te skaad.

Die IRV sal aanhou om die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners te verdedig, soos ons vir die afgelope byna negentig jaar (sedert 1929) steeds doen.

 Marius Roodt is ’n veldtogbestuurder by die Instituut van Rasseverhoudinge (IRV).
 

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-irv-neem-stryd-oor-eiendomsreg-na-buiteland/