BLM sekte se ware teken is klassieke liberale denke - Netwerk24
Frans Cronje en Hermann Pretorius
Wie de hel dink Minister Nathi Mthethwa is hy? Waar kom hy aan die idee dat hy engigsins amper die reg het om die vryhede van uitdrukking, denke en geloof van Suid-Afrikaners deur die mag van die staat te wil beheer? Hoe op aarde kan enige mens dink dit is rassisties om met die slagspreuk ‘Rugby Against Racism’ op ‘n t-hemp rugby te speel?
Om op hierdie frustrasie-gelaaide vrae antwoorde te vind, moet Suid-Afrikaners doen wat sportikone soos Graeme Smith, Faf du PLessies en AB de Villiers ongelukkig versuim het om te doen: agter die kap van die byl kom.
Die byl van die #BlackLivesMatter-beweging (BLM) swaai genadeloos. Slegs as jy weet watter arm hom swaai en waar die lem val, kan jy keer dat jy kniel voor die laksman en totaal en al kop verloor.
Beskou vanaf die regte kant van die kap van die byl word dit duidelik dat die sektelike momentum van die BLM aangevuur word deur ‘n onbeskaamde, irrasionele vyandigheid teenoor die hoeksteen van moderne beskawing: die Joods-Christelike opvatting dat die mens as indiwidu die dader van beide sonde en goedheid kan wees.
Op hierdie hoeksteen word die katedrale van Magna Carta, die Reformasie, die Verligting, en moderne denke van reg en verkeerd gebou. Klassiek liberale denke, rasioneel en begrypend van die mens se inherente waarde as wesen, vat pos in hierdie historiese denkstrukture en verpsrei met missionale ywer oor die wêreld, uitvarend teen die argaïese geloof in die onbuigsame, ondenkende kollektivisme van onderdrukkende groepsidentiteit en destruktiewe nasionalisme.
Die historiese momentum van klassiek liberale denke baan oor eeue heen die weg vir die mees effektiewe aanslae in geskiedenis op outoritarisme, rassisme en onregmatige diskriminasie op grond van identiteit. Ons begrip van regverdigheid en maatskaplike verdraagsaamheid en van Martin Luther en sy Amerikaanse, twintigste-eeuse naamgenoot se opvatting van die waarde van die indiwidu, rus vandag steeds op daardie oorspronklike hoeksteen van menslike waardigheid en identiteit.
Tog het hierdie monument van indiwiduele waardigheid en agentskap die teiken geword van behepte vandale: die van die sekte van die #BlackLivesMatter-beweging, aangevuur deur die dogma van critical race theory.
Soos met enige sekte, word die uitdaag en selfs kritiese ondersoek van die fondasie van BLM, wat in direkte opposisie tot moderne beskawing staan, aggressief ontmoedig. Hoekom? Omdat BLM ‘n huis van raskaarte is. Hierdie sekte-dogma berus op die ontkenning van die indiwidu se agentskap en die onwrikbare kategorisering van alle mense in een van twee groepe: slagoffers of kwaaddoeners. Ras bepaal jou lidmaatskap aan jou groep.
Durf jy die dogma bevraagteken, word jy beskludig van kettery en na die brandstapel of galg gelei – vir nou, dank Vader, slegs metafories.
Die ontkenning van indiwiduele agentskap noodsaak die ontkenning van jou vermoë om ooit uit jou aangewese groep te ontsnap. Al wat volgens die dogmatiek van BLM verandering kan bring aan jou status as kwaaddoener is die absolute vernietiging van die instansies en strukture wat na bewering verantwoordelik is vir die sortering van slagoffers en kwaaddoeners.
Die geskrifte van BLM verkondig dat die ontwikkeling van moderne beskawing, demokrasie en klassiek liberale denke geensins lofwaardig of konstruktief was nie, maar ‘n historiese fopspel was om slagoffers te laat glo dat hulle lewensukses kan behaal deur harde, eerlike, toegewyde werk. Dié perwerse interpretasie van geskiedenis beteken dat moderne beskawing niks anders was of is as ‘n dwelm om die slagoffers geduldig en gedienstig onderdanig te hou nie.
Wanneer die voorstanders van BLM dus die vernietiging van instansies verkondig, is hul teikens daardie samelewings- en denkstrukture wat uit die Joods-Christelike wêreldbeskouing, Magna Carta, die Reformasie en die Verligting voortgelvoei het om kapitalisme, kerk en moderne demokrasie te vorm.
As ons die strukture en hoeksteen van moderne beskawing, die monumente van indiwiduele vaardigheid en agentskap wil beskerm, wat staan ons te doen?
‘Staan’ is die kernwoord hier.
Soos Martin Luther moet ons belei dat ons staan waar ons staan omdat ons nie anders kan nie. Soos Martin Luther King Jr. moet ons staande volhou dat ons die inhoud van karakter sal weeg eerder as die pigment van vel.
Staan.
Staan voor die sekte-skare, verwerp hul afgodery en dring aan op rede. Kniel voor die aggressors van BLM en dit waarop jy ook al staan sal eers galg dan graf word.
As jy kniel, kniel voor die Skepper wat aan jou as indiwidu onontkenbare agentskap en regte gegee het – die reg op lewe, vryheid en die najaag van vreugde.
Staan, orienteer jou tot die katedrale van ons beskawing en, soos hulle, bly staande.
Dr. Frans Cronje is die hoof uitvoerende beampte van die IRR. Hermann Pretorius is adjunk-hoof van beleidsnavorsing by die IRR.