Selfs armes is aandadig aan swak regering – Rapport, 19 July 2015
Magsbalanse, en nie rekonsiliasie nie, is nou die beste manier om ’n stabiele en voorspoedige toekoms vir ons land te verseker. Dit is frustrerend om te sien hoe sleg die privaat sektor, kommersiële boere, die middelklas en groot korporasies vaar met die versekering van ’n toekoms vir hulself in Suid-Afrika.
Dit hoef nie so te wees nie. Met betrekking tot die staat het hierdie groepe kollektief ongelooflike mag. Die privaat sektor maak alle belastinginkomste wat deur die staat ingevorder word moontlik. Kommersiële boere voed die land. Die middelklas voorsien die vaardighede en entrepreneurskap om die ekonomie te laat groei. Groot korporasies maak die kapitaal moontlik om belegging te laat toeneem.
Gesamentlik is hulle daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrika ’n moderne ekonomie het. Die lewenstandaard van alle Suid-Afrikaners sal regstreeks afhang van die besluite wat hierdie groepe neem.
En tog is hulle gesamentlik ’n patetiese spul. Die privaat sektor het volledig by die ras-nasionalistiese agenda van die regering ingekoop. Sodoende het hulle aan die staat aansienlike regulatoriese mag oor hul ondernemings gegee.
Die kommersiële-boerdery-sektor het ook by die herverdelingsteikens van die ANC ingekoop en beloof om dié teikens te haal. Die gevolg is dat kommersiële boere en hul eiendomsregte nou onder beleg is.
Die middelklas het die korrupsie en onbevoegdheid van die staat amper gedwee aanvaar, en betaal maar privaat vir dienste wat strek van mediese sorg tot sekuriteit.
Groot korporasies is erger. Hulle het die kapitaalkrag om die staat te dwing tot beleidshervormings, maar verkies om nie dié mag uit te oefen nie. Hulle herbevestig liewer slaafs hul verbintenis tot die regering se intervensionistiese ekonomiese beleid, selfs al bedreig dit hul belegging.
Wat van die armes? Dit is ’n omstrede ding om te sê, maar hulle is net so erg. Miskien het hulle min ekonomiese mag, maar arm en werklose jong mense het kollektief ongelooflike mag met hul vermoë om die regering uit te stem. Verkiesing ná verkiesing stem hulle egter weer vir dieselfde regering.
Of hulle weier om te stem, selfs al steel die regering van hulle en voorsien nuttelose skole en minderwaardige dienste en al laat hy die polisie op die armes skiet wanneer hulle protesteer.
Die ergste van almal is die vele burgerlike gemeenskapsleiers, aktiviste en joernaliste wat argumenteer dat die staat selfs meer mag oor die lewe van sy mense behoort te hê, onderwyl hulle kla oor die misbruike en mislukkings van daardie staat.
Die grootste rede waarom ons land in wanorde is, is dat invloedryke rolspelers – arm en ryk – dit toelaat. Hulle kerm en kla, voer hul bates uit en gooi klippe, maar die regering kan hulle ignoreer met die wete dat hulle nie bereid is om ’n nuwe magsbalans af te dwing wat die regering tot verantwoording sou kon roep nie.
Zuma en Nkandla is dus net daar omdat die meeste Suid-Afrikaners vir sy party gestem het en die grootste deel van die privaat sektor en burgerlike gemeenskap sy regering se beleid ondersteun.
Die grootste rede waarom boere in ’n staat van beleg is, is dat invloedryke landbou-unies by die regering se grondhervormingsplanne ingekoop het.
Die ekonomie groei nie juis vinnig nie, hoofsaaklik omdat groot korporasies hulle voortdurend tot die regering se waansinnige rassebeleid herverbind.
Maar wanneer ’n mens verskeie analitici en kommentators vra wat verkeerd is in Suid-Afrika, sal hulle jou na mislukte rekonsiliasie verwys.
Die werklike probleem is egter ’n groot en ál magtiger staat wat die steun behou van juis die mense en organisasies waarop die regering besig is om sy wurggreep stadig te versterk.