Al meer belasting vir al minder waarde - Maroela Media
Anlu Keeve
Weinig faktore kniehalter ekonomiese groei soos buitensporige belasting en ondoeltreffende staatsbesteding. Hierdie is duidelik waarneembaar in Suid-Afrika.
Gedurende die laaste dekade het Suid-Afrika ʼn duidende verswakking van regeringsbestuur ervaar, merkbaar in die afname van korrupsiebeheer wat toegeskryf word aan verminderde regulatoriese effektiwiteit.
Volgens die Wêreldbank se data het Suid-Afrika van 1996 tot 2022 die sewende grootste relatiewe afname in regulatoriese effektiwiteit beleef. Nog meer kommerwekkend is die feit dat die land die steilste relatiewe afname in korrupsiebeheer van alle soewereine grondwetlike demokrasieë beleef het, met die mees drastiese agteruitgang tussen 2021 en 2022.
In Suid-Afrika word die spoedige verswakking in regeringuitkomste gekoppel aan ʼn vinnig groeiende belastinglas – die slegste moontlike kombinasie, aangesien belastingbetalers meer moet betaal vir swakker dienste.
In hierdie konteks kan ʼn verlaging van die regering se belastinginkomste die finansiële las op burgers verlig. Dit kan ook as aansporing dien vir die regering om sy verantwoordbaarheid en doeltreffendheid in die toewysing van hulpbronne te verhoog. Sulke maatreëls kan potensieel aanleiding gee tot verhoogde besteding, verbeterde regeringsbestuur en, uiteindelik, ekonomiese vooruitgang.
ʼn Vermindering van die belasting op toegevoegde waarde (BTW)-tarief na 11,5% (vanaf 15%), en die algemene brandstofheffing (ABH) na R1,73 per liter (vanaf R3,96 per liter), sal die druk op produsente en uiteindelik op die eindverbruikers versag, met besondere verligting vir individue en huishoudings in die laer inkomstegroepe.
Waar om te begin sny
In die beoordeling van strategieë vir belastingverlaging, word BTW onderskei vir ʼn aantal redes. Voorop staan die inherente regressiewe aard van BTW wat buitensporig swaar op die armste segmente van die samelewing val – die wat ʼn groter gedeelte van hulle inkomste aan verbruik bestee. Hierdie regressiewe effek word vererger deur Suid-Afrika se ondraaglike armoede, hoë werkloosheid en gebrekkige lewensomstandighede.
Verder, as ʼn omvattende verbruikersbelasting, het BTW onvermydelik ʼn impak op die eindverbruiker. Deur die BTW-koers te verlaag, kan egter besteding en sakeaktiwiteit gestimuleer word, wat sodoende sommige inkomsteverliese met verhoogte ekonomiese groei en ʼn breër belastingbasis kan vervang.
In ʼn onlangse publikasie getiteld “Blueprint for Growth: Slash waste, cut taxes” (beskikbaar op die IRR-webwerf), stel navorsingsgenoot Gabriel Crouse ʼn 3,5% verlaging in die BTW-koers voor. Die potensiële voordeel van so ʼn BTW-verlaging is duidend, met die verwagting dat dit ongeveer R12,6 miljard in die hande van die armste 50% en R29,1 miljard in die hande van die armste 80% sal laat.
Naas die BTW-verlaging, is die vermindering van die ABH ʼn belangrike verligtingsmaatreël wat wydverspreide positiewe uitwerkings op die ekonomie sal hê. As ʼn kernkomponent van vervoer en logistiek, sal ʼn verminderde ABH die vervoerkoste beduidend verlaag, wat op sy beurt die koste van goedere en dienste oor die algemeen sal afbring. ʼn Vermindering in die ABH van R3,96 per liter (2023-koers) tot R1,73 per liter sal na raming kopers R50 miljard spaar.
Die verlaging van die brandstofheffing vorm ʼn kritieke stap volgende op die vermindering van die BTW-tarief. Dit berus op die beginsel dat, wanneer die staat dieselfde uitset verkry terwyl minder bestee word, dit die verbruikersvraag kan beïnvloed – ʼn verlaging in die ABH sal enige moontlike negatiewe impak op hierdie vraag teenwerk. Indien die ABH-verlaging nie geïmplementeer word nie, kan die positiewe middeltermynvoordele wat verwag word, ondermyn word deur onmiddellike negatiewe terugslae op ekonomiese aktiwiteit.
Waar kom die befondsing vir die verlies in inkomste vandaan?
BTW is gewild in regeringskringe vir die veerkragtige inkomstebasis wat dit bied, en dikwels aansienlik meer inkomste lewer as ander verbruiksbelastingsalternatiewe. BTW en brandstofheffings het saam in 2022/23 ongeveer 30% bygedra tot die totale belastinginkomste. Gevolglik het enige hervorming van die voorgestelde skaal aansienlike implikasies vir regeringsfinansies en sal die gaping in inkomste wat deur die veranderinge gelaat word, aangespreek moet word.
Die Zondo-verslag verbind korrupsie (staatskaping) met ʼn probleem in die wetgewing-ontwerp, spesifiek die verwarring van die onvermydelike spanning tussen voorkeurverkryging, elders bekend as BEE-premies, en maksimum waarde-vir-geld, ʼn verwarring wat aanspreeklikheid ondermyn. Deur BEE-premies uit te sny sal daar na raming ongeveer R17 miljard per jaar vrygestel word, wat op sy beurt korrupsiebeheer verbeter tot die waarde van ʼn geraamde R150 miljard, wat verwys word na as die “Zondo-dividend”.
Die eerste R100 miljard van die Zondo-dividend kan gebruik word om te betaal vir ʼn BTW-koers verlaging van 3,5% en ʼn ABH-verlaging van R2,20 per liter. Die aanvanklike BTW-koers-verlagings word geraam om R31 miljard in die sakke van die armste 70% van Suid-Afrikaanse burgers te laat, waar dit waarskynlik veel beter bestee sal word as deur die regering.
Die aanpasbaarheid van die ABH is ʼn sleutelvoordeel wat vinnige aanpassings moontlik maak. Indien die Zondo-dividend vinniger as verwag gerealiseer word, kan die spoedige implementering van ʼn brandstofprysverlaging deur middel van prysheffings, help om die totale verbruikersvraag te red. Dit het die potensiaal om wydverspreide positiewe byvoordele vir alle Suid-Afrikaanse burgers te hê, met ʼn besondere fokus op die armstes.
In soverre brandstofbelastingverlagings nie deurgegee word aan die eindverbruikers nie, word verwag dat die taxi-bedryf, wat ʼn sleutelsektor is vir indiensneming, aansienlik daarby sal baat vind.
Volgens Crouse word verwag dat swart besighede direk sal baat by ʼn aandeel van ongeveer R30 miljard van die BTW-verlaging wat nie aan verbruikers deurgegee word nie, en van verbeterde bestuur, en van verbeterde verbruikersvraag in relevante nodes van die heterogene mark. Hierdie voordeel weeg swaarder as die verliese deur die vermindering van die BEE-premies.
Om uiteindelik ʼn Suid-Afrika te skep wat bevorderlik is vir ekonomiese groei, met ʼn hoër per capita inkomste, hoër lewensverwagting, minder werkloosheid, en beter lewenstandaarde, is dit noodsaaklik om staatsbestuur te verbeter en meer geld in die sakke van burgers te hou.
Anlu Keeve is ‘n navorser verbonde aan die IRR.
https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/al-meer-belasting-vir-al-minder-waarde/