Ware grondhervorming is binne ons bereik – ons moet dit net aangryp - AgriPortal
Marius Roodt
Stede is die masjienkamer van die ekonomie, en stede behoort die fokus te wees van wat ’n werklik revolusionêre grondhervormingsproses kan wees.
Baie is al sinloos geskryf sedert Suid-Afrika die grootse nuwe wêreld van die Ramaphosa-era betree het. Wanneer dit egter by onteiening sonder vergoeding (OSV) kom het die ANC, deur sy wa by die Economic Freedon Fighters (EFF)-perd in te span, ’n beleid aanvaar wat selde elders in die wêreld gewerk het. Indien die volle omvang van wat die EFF sou wou hê – met alle grond wat na die staat oorgaan – geïmplementeer sou word, sal Suid-Afrika by Zimbabwe en Venezuela aansluit as 21ste-eeuse waarskuwingsverhale van die skade wat swak ekonomiese beleid ’n land kan aandoen.
Suid-Afrika het sonder enige twyfel ’n geskiedenis van grondontvreemding en dit moet in so ’n groot mate as moontlik reggestel word. Die meeste mense wat deur grondhervorming bevoordeel is het egter verkies om geld eerder as grond te aanvaar, wat wys dat grondhonger nie so ’n brandende vraagstuk is as wat deur party mense beweer word nie.
Terselfdertyd is Suid-Afrika nie ’n plattelandse land nie – ons verstedelik vinnig. In 1990 het omtrent 52% van Suid-Afrikaners in stede gewoon. ’n Kwarteeu later het hierdie syfer tot 65% gestyg, met byna twee derdes van Suid-Afrikaners wat in stede leef.
Daar was ook groot bevolkingstoenames in Suid-Afrika se grootste stede. Tussen 1996 en 2016 het die bevolking van Johannesburg byvoorbeeld van 2,7 miljoen tot 4,9 miljoen toegeneem, ’n styging van 82%. Van Suid-Afrika se ander metro’s het Kaapstad, Tshwane en Ekurhuleni oor hierdie tydperk bevolkingstoenames van meer as 50% getoon. Van die land se grootste stedelike gebiede het Rustenburg se bevolking tussen 1996 en 2016 byna verdubbel. Al die land se stedelike gebiede – behalwe Buffalo City (Oos-Londen) en Emfuleni (Vereeniging) – het toenames van meer as 20% in bevolking getoon.
Die toekoms van Suid-Afrika – en, inderdaad, van die res van die wêreld – is stedelik. Soos Ed Glaeser, ’n Harvard-ekonoom, sê, is stede die grootste uitvindsel van die mensdom. Stede beteken dat mense naby mekaar is, wat ons meer vernuwend en meer produktief maak en wat ekonomiese groei bevorder. Suid-Afrika moet hierdie stedelike toekoms aangryp en ophou om na ’n nie-bestaande landelike goue eeu terug te verlang. Stede is die groei-instrumente van enige land en by ons is dit maar net so.
Hoewel net minder as 40% van Suid-Afrika se bevolking, byvoorbeeld, in een van die agt metropolitaanse munisipaliteite leef, is die ekonomiese uitset van hierdie agt stede baie meer as dit. Die gesamentlike ekonomiese uitset van die agt metropolitaanse munisipaliteite het in 2016 vir byna 60% van Suid-Afrka se bruto binnelandse produk verantwoording gedoen. Johannesburg alleen was vir 15% van die ekonomiese uitset verantwoordelik, ondanks die feit dat dié stad oor omtrent nege present van Suid-Afrika se bevolking beskik.
Die regering behoort stede te aanvaar as die ekonomiese meganismes wat hulle is.
Een manier om mense wat reeds in ’n stad woon te laat voel dat hulle ’n aandeel daarin en in die toekoms daarvan het is om transportaktes te verskaf aan stadsbewoners wat nie reeds daaroor beskik nie. Stede oor die land heen behoort die voorbeeld van die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, te volg en titelbewyse te voorsien aan mense wat met lang huurkontrakte in huise woon.
Suid-Afrika behoort ook innoverend te wees. Waar moontlik, moet mense wat in informele nedersettings woon titelbewyse ontvang vir die grond waarop hulle woon, veral as dit regeringsgrond is. In gevalle waar dit nie moontlik is nie en mense verskuif moet word, behoort hulle hervestig te word in gebiede waar hulle transportaktes kan ontvang. Mense in HOP-huise behoort terselfdertyd titelbewyse vir hul huise en grond te ontvang.
Die verskaffing van titelbewyse vir hul grond en eiendom aan hierdie mense sal miljoene, of selfs miljarde, rand ontsluit in wat op die oomblik ‘dooie’ kapitaal is. Vaste-eiendomsregte is een van die sleutels tot die welvaart en voorspoed van die ontwikkelde wêreld, soos Hernando de Soto, ’n gevierde Peruaanse ekonoom, aanvoer.
Daar bestaan geen twyfel dat grondhervorming in Suid-Afrika noodsaaklik is nie, maar dit is verkeerd om op plattelandse grond te fokus. Ons hervormingspogings behoort daarop toegespits te wees om aan mense met skraal grondregte in stede titelbewyse te gee. (Dit beteken nie dat grondhervorming in landelike Suid-Afrika nie net so belangrik is nie.)
Om alle Suid-Afrikaners van hul transportaktes te stroop – soos die EFF wil doen – sal enige moontlikheid dat die land ’n voorspoedige samelewing, met geleenthede vir almal, kan word vernietig. Die bemagtiging van mense deur aan hulle titelbewyse vir hulle grond te gee sal waardigheid aan hulle verleen en aan hulle geleenthede gee waaroor hulle nie vroeër beskik het nie. Dit sal nie moeilik wees nie en ons het dit al sien gebeur – vernaamlik in Johannesburg deur mnr Mashaba. Werklike grondhervorming is binne ons bereik – ons moet dit aangryp.
Marius Roodt is ’n konsultant van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).