Regeringsteun vir Afrikaanse skole nodig - Netwerk24

27 June 2018 - Suid-Afrikaanse skole beleef ’n krisis, maar daar is kleinode onder hulle – en dit sluit ’n groot aantal Afrikaanse skole in.

Marius Roodt

Suid-Afrikaanse skole beleef ’n krisis, maar daar is kleinode onder hulle – en dit sluit ’n groot aantal Afrikaanse skole in.

Indien die suksesse van hierdie, en ander, skole –  waaronder ’n aantal skitterende voorbeelde in die townships – nagedoen kon word, sou baie kinders daarby baat.

Soos sake egter nou staan is ons onderwyskrisis diepgewortel, soos ons eie navorsing by die Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRV) sowel as data uit verskeie ander bronne toon.

Minstens driekwart van Suid-Afrikaanse skole kan, byvoorbeeld, as wanfunksioneel beskou word.  Tot 80% van ons graad viers is terselfdertyd funksioneel ongeletterd.  Kinders wat die meeste Suid-Afrikaanse skole bywoon is nie op die vereiste opvoedkundige vlak vir hul graad of ouderdom nie en is sleg voorberei vir latere studie en die werkwêreld. Dit het ernstige implikasies vir Suid-Afrika se toekoms en ons moet almal daaroor bekommerd wees.     

Alles is egter nie verlore nie.  ’n Aantal staatskole is oases van voortreflikheid en bied onderwys van gehalte vir diegene wat daar skoolgaan.  Dit sluit ’n aantal voormalige Model C-skole, ’n paar skole in townships, maar ook ’n groot aantal Afrikaanse skole in.

Navorsing van die Solidariteitondersteuningsentrum, ’n inisiatief van die vakbond Solidariteit, toon dat Afrikaansmediumskole geneig is om baie beter as ander skole te vaar. (Afrikaanse skole word omskryf as dié wat Afrikaans as Huistaal as ’n vak aanbied, en die kategorie sluit dus Afrikaanse parallel- sowel as dubbelmediumskole in.)

As toeligting hiertoe kan ons die syfers ontleed.  In 2017 het 534 484 kandidate in altesaam 6 805 skole matriek geskryf.  Van hierdie skole was 684 Afrikaans, met 68 389 kandidate.

Afrikaanse skole het beter gevaar as skole in die algemeen.  Die algehele slaagsyfer was 75%, terwyl dit in Afrikaanse skole 86% was.  ’n Soortgelyke patroon blyk uit die syfers vir diegene wat goed genoeg geslaag het om universiteitstoelating te kry.

Ook ten opsigte van vakke het Afrikaanse skole beter as hul medeskole gepresteer.

In 2017 het, byvoorbeeld, 6 726 kandidate algeheel meer as 80% (of ’n onderskeiding) vir wiskunde behaal, gemiddeld omtrent een onderskeiding per skool.

Hierteenoor het Afrikaanse skole omtrent drie onderskeidings per skool behaal.  Die land se 684 Afrikaanse skole was vir byna 2 000 wiskunde-onderskeidings verantwoordelik.  Hoewel Afrikaanse skole slegs omtrent tien present van alle skole wat matriek aangebied het gevorm het, was  hulle vir byna 30% van alle onderskeidings in die vak verantwoordelik.  Indien alle skole so goed as Afrikaanse skole gepresteer het sou die totale aantal onderskeidings in wiskunde byna 20 000 wees – ’n resultaat wat veel goeds sou inhou vir die toekoms van die land.

Een van die redes waarom Afrikaanse skole so goed presteer is hoë onderrigstandaarde.  ’n Ondersoek in 2016 het bevind dat Wiskunde-onderwysers in Afrikaanse skole ’n gemiddeld van 97% in die preliminêre eksamen vir die vak behaal het.

Abraham Lincoln het na bewering tydens die Amerikaanse Burgeroorlog gesê:  ‘’n Mens kan nie die swakkes versterk deur die sterkes te verswak nie.’  Soos met baie sodanige grondstellings, is hierdie toeskrywing onwaar.  Maar indien Lincoln nooit hierdie woorde geuiter het nie is die sentiment daarvan nie minder opmerklik nie – en veral relevant tot wat vandag skynbaar  met Afrikaanse skole aan die gebeur is.

In plaas daarvan om Afrikaanse skole te koester, by hulle te leer en daarna te streef om hul suksesse in die breër onderwysstelsel na te doen lyk dit of daar (veral in Gauteng) ’n daadwerklike poging aangewend word om hierdie skole te verswak uit name van ’n onbesonne ideologiese aanval op die ‘onderdrukker’.

Die aantal Afrikaanse skole neem voortdurend af en dit lyk beslis asof daar, veral in Gauteng, in ’n mate ’n veldtog bestaan teen skole wat in dié taal onderrig.

Die Hoërskool Overvaal-insident vroeër vanjaar, waar ’n Afrikaanse skool deur die department gedwing is om Engelssprekende leerders te aanvaar ten spyte van die feit dat daar naby twee Engelsmediumskole met ruimte vir hulle was, is so ’n voorbeeld.

Ons by die IRV het in dié tyd die optrede van die Gautengse Departement van Onderwys sterk veroordeel.  Verdere bewys van ’n verskraling van Afrikaans in Gauteng is dat jy nie meer ’n medium van onderrig kan kies wanneer jy op die onderwysportaal van die Gautengse regering vir ’n skool aansoek doen nie, wat impliseer dat ’n mens nie meer Afrikaans as die onderrigmedium kan kies nie.

 Die IRV is gekant teen enige poging deur skole of ouers om Afrikaans as ’n middel van uitsluiting van ander te gebruik, maar daar is min bewys wat daarop dui dat dit die geval is.  Soos Paul Colditz, HUB van die Federasie van Regeringsliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) skryf:  ‘Daar is … geen openbare skool in Suid-Afrika wat eksklusief wit is of so wil wees nie.  Die meerderheid Afrikaanse skole in Suid-Afrika is, trouens, nie sogenaamde “wit” skole nie.’

In plaas daarvan om Afrikaanse skole te teiken, soos skynbaar, veral in Gauteng, gebeur, behoort hierdie skole gekoester te word en daar behoort van hulle geleer te word.  Hulle voorsien uitstekende onderrig aan die meeste kinders (ongeag hul ras) wat by hulle skoolgaan.  Afrikaanse skole behoort as opvoedkundige bates erken te word, eerder as instellings wat uitgefaseer moet word, wat skynbaar die regering se ingesteldheid teenoor hulle is (veral in Gauteng).

Hierbenewens verskil Afrikaanse skole van ander skole in ’n verdere sprekende opsig:  die invloed van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) is by hulle minimaal of niebestaande, en daar is groter ouerbetrokkenheid in dié skole deur middel van sterk en goed funksionerende beheerliggame.

Afrikaanse skole behoort deur die regering ondersteun, eerder as ondermyn, te word.  Goeie skole, ongeag wat hul onderrigtaal is, behoort as die uiters waardevolle bates wat hulle is beskou te word.

Politieke leierskap in Suid-Afrika, veral in Gauteng, sou baat deur sy bes vir onderwys en skoolgaande kinders te doen, eerder as om ’n eng politieke agenda te dien.  Dit kan gedoen word deur Afrikaanse skole, hul onderwysers en diegene wat hulle bywoon te ondersteun, eerder as om hierdie skole te verswak.

Die enigste manier waarop Suid-Afrika kan slaag is om saam, eerder as teen mekaar te werk.  Een wyse waarop dit kan geskied is deur die regering se ondersteuning vir Afrikaanse skole, wat oor die algemeen uitstekende onderrig-uitkomste bied.

Indien jy saamstem dat ouers meer betrokke by skoolbeheer en -bestuur moet wees, kan jy die IRV-skoolmanifes ondersteun deur dit te onderskryf by https://irr.org.za/campaigns/giving-power-back-to-parents/endorse-our-charter .

Marius Roodt is ’n Veldtogbestuurder by die Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRV), ’n dinktenk wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder.  Indien jy saamstem met wat jy so pas gelees het, kan jy hier klik of jou naam SMS na 32823.   

 

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/regeringsteun-vir-afrikaanse-skole-nodig-20180626