Die strafregstelsel moet gekapasiteer word - Maroela Media
Zakhele Mthembu
Suid-Afrika sit met een van die hoogste syfers vir geweldsmisdaad ter wêreld, wat dit noodsaaklik maak dat die regering sterker op die sekuriteit en vrede van Suid-Afrikaanse burgers moet fokus.
Die geweldsmisdaadkoers in Suid-Afrika is goed gedokumenteer. Volgens die jongste misdaadstatistiek wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bekendgemaak is, word meer as 86 moorde per dag in Suid-Afrika aangeteken – met ʼn skuldigbevindingskoers van slegs 8% vir hierdie moordenaars.
Dit is duidelik ʼn situasie wat alle gesprekke oor die wese van die staat behoort te oorheers.
Luidens syfers van die minister van finansies in die jongste begrotingsrede, sal in totaal R244 miljard van die staatsinkomste vir die komende boekjaar aan die vrede en sekuriteit van Suid-Afrikaanse landsburgers bestee word. Vrede en sekuriteit sluit polisiedienste, die howe en tronke, binnelandse sake en ook nasionale verdediging in die vorm van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in.
Ter agtergrond, die regering bestee R255,4 miljard aan ekonomiese ontwikkeling, R271,9 miljard aan gesondheid, R480,6 miljard aan onderwys en kultuur en ʼn yslike R382,2 miljard aan die terugbetaling van skuld plus rente. Die R54,4 miljard wat vanjaar vir besteding aan howe en tronke geoormerk is, is minder as die bedrag wat alleenlik vir kinderonderhoudstoelaes bedoel is en op R85,8 miljard staan.
Dit is bestedingsterreine wat meer geld ontvang as vrede en sekuriteit, terwyl ʼn mens tog kan aanvoer dat die staat se primêre rol is om die vrede en sekuriteit van sy landsburgers, selfs eerder as gesondheidsorg en onderwys, te verseker. Waarom word nie meer bestee om die kapasiteit van die sekuriteitsdienste te vergroot as daar duidelik probleme bestaan nie?
Suid-Afrika val vas weens sy enorme openbare sektor. Die staat is die grootste werkgewer. Die probleem is dat ons openbare sektor belastingbetalers ʼn klomp geld kos as gevolg van hoë salarisse, maar volgens die Tesourie nogtans ʼn lae personeeltal.
Dit beteken ʼn beduidende persentasie van die geld wat aan vrede en sekuriteit toegewys is, byvoorbeeld die R125 miljard vir polisiedienste, gaan aan salarisse eerder as om miskien die getal polisebeamptes te verhoog en só nader te kom aan die teoretiese vereiste vir mensehulpbronne.
Luidens onthullings van die Khayelitsha-kommissie gaan polisiedienste voortdurend mank aan personeeltekorte. Dit beteken daar is ʼn behoefte aan meer beamptes, selfs volgens die SAPD se hulpbronmodel. Een van die maniere waarop sodanige mensehulpbronne verkry kan word, is deur die bedrag geld wat die polisie ontvang te verhoog.
Die Khayelitsha-kommissie het ook onthul dat daar ʼn ernstige vaardigheidstekort onder speurders of ondersoekbeamptes in strafregsake is, of dat gebrekkige insig bestaan in wat skuldigbevinding in strafregtelike vervolging vereis. Dit beteken speurders het gewoonlik te min kennis van hoe bewyse ingesamel en hanteer moet word.
Om die kapasiteit van ʼn diens soos polisiëring te verbeter, sal meer geld bestee moet word maar ook verreikende veranderings aangebring moet word aan dinge soos die opleiding van sowel voornemende polisielede as dié wat reeds in diens staan.
Die probleem van hoë lone en lae personeeltalle in die SAPD affekteer ook die regterlike gesag en die gevangeniswese. Suid-Afrika het ʼn gedokumenteerde probleem van oorvol tronke. Meer tronke moet gebou word om al die gewelddadige misdadigers te huisves. Hoeveel van die R54,4 miljard wat vir howe en tronke bestem is, sal wel aan die bou van nuwe tronke of uitbreiding van die bestaande tronke bestee word?
Suid-Afrikaanse howe is berug vir hul hoë werkslading en die trae pas van regspleging. Dit is onlangs bevestig in navorsing wat deur die Universiteit van Kaapstad gedoen is en algemene kennis is onder almal wat al ooit met die howe te doen gehad het.
Ons benodig meer howe en meer regters om die hoë gevallelading en algemene vertragings wat die Suid-Afrikaanse regbank kenmerk, te hanteer. Dit sal ook noodsaak dat die R54,4 miljard wat vir die genoemde howe en tronke geoormerk is, verhoog moet word, terwyl die oorhoofse en algemene regeringsprobleem van ʼn hoë salarisrekening en lae personeeltal terselfdertyd aandag kry.
Polisiëring, howe, en tronke speel ʼn wesenlike rol in die funksionering van enige beskawing. Hulle is ʼn bron van vrede en sekuriteit, een van die grondliggende funksies van die staat. Watter nut het onderwys, gesondheid, en gemeenskapsontwikkeling as die mense vir wie dit bedoel is in ʼn rooftog of motorkaping afgemaai word?
Die regering en breër gemeenskap moet daarop fokus om die kapasiteit van dienste wat die vrede en sekuriteit van Suid-Afrikaners verseker te vergroot, sodat ons nie voortgaan om vlakke van geweld soortgelyk aan dié in ʼn oorlogsone te normaliseer, terwyl ons byna te bang is om dit ná donker in ons eie land buite te waag nie.
Zakhele Mthembu, BA (Regte) LLB (Wits), is ʼn beleidsbeampte by die Vryemarkstigting.
https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-strafregstelsel-moet-gekapasiteer-word/
This article was first published on the Daily Friend.