Onteiening: Boere kan alles verloor, waarsku Frans Cronjé - Landbou, 08 March 2017

Suid-Afrika op ’n naaldpunt oor die grond-kwessie, en boere kan alles verloor, meen dr. Frans Cronjé.

 

Frans Cronje 

Onteiening sonder vergoeding. Só sê die Regering.

Die Regering het by monde van pres. Jacob Zuma en mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, dit duidelik gemaak dat hy wil sien dat restitusiegrond sonder vergoeding onteien moet word. Dit laat die vraag ontstaan of die Regering moontlik plase wil nasionaliseer? Wat staan die kommersiële boer te doen om sy toekoms in die land te verseker?

JOYLENE VAN WYK het vrae rakende dié kwessie aan dr. Frans Cronjé, ’n scenariobeplanner en uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudings, gevra.

Jy het onlangs in ‘n Sondagkoerant aangedui dat die Regering vasbeslote is om sonder vergoeding op kommersiële plase beslag te lê. Waarom sê jy dit?
Nasionalisering van plase is in ooreenstemming met die ideologie van die Nasionale Demokratiese Revolusie, wat deur ’n aantal senior ANC- en Regeringsleiers as die ware beleidskonsep van die Regering erken word. Ooreenkomstig met dié konsep het die Minister van Grondsake sowel as die president albei hierdie jaar verklaar dat ’n wet goedgekeur moet word wat die staat sal toelaat om sonder vergoeding op kommersiële plase beslag te lê. Ek glo die president en die minister.

Sal so ’n beleid nie baie skade aan die landbousektor doen nie?
Dit sal skade doen aan voedselproduksie en belegging in landelike gebiede. Boere moet egter verstaan dat ideologies gedrewe beleidsvormers skade gedoen het op terreine wat wissel van mynbou tot vervaardiging. Boere moenie dink dat hul sektor anders sal wees nie.

Kan boere op die howe en die Grondwet vertrou om hul belange te beskerm?
Nie volkome nie. Wetgewers het begrippe soos “kuratorskap” en “regulatoriese toe-eienings” ingestel. Hierdie begrippe kan die staat toelaat om eiendom in private besit te onteien sonder om die eiendomsklousule van die Grondwet aan die gang te sit, wat gevolglik vergoeding sou vereis. Boere moet ook noukeurig let op die Salem-grondeise-uitspraak van vroeër wat gesuggereer het dat party howe die wet sowel as die bewyse sal ignoreer om die herverspreidingsagenda van die Regering te bevorder. In die derde plek is daar nie vir die geld vir vergoeding begroot nie en daar is genoegsame afslagklousules in die Grondwet sodat die Regering ’n plaas kan onteien en baie minder as die markwaarde daarvoor betaal. Ons dink die staat wil sien of hy plase kan vat sonder om te betaal binne die perke van die Grondwet – dus moet nie te veel vertroue daarin plaas nie dat die ANC pas geweier het om die EFF se mosie oor grondwetlike veranderings te ondersteun. Daar was in enige geval dieper politieke strome agter daardie besluit.

Het jy hierdie waarskuwings aan die kommersiële boederysektor deurgegee?
Ja, ons het. In die meeste gevalle is ons waarskuwings verontagsaam. Die uitsondering is die TLU SA, wat ’n besonder skerpsinnige begrip van die beleidsintensies van die Regering getoon het.

Agri SA het julle ontleding die duidelikste teengestaan en gesê dat groot vordering deur middel van regstreekse onderhandelinge met die Regering gemaak word.
Ja, jy is reg, dat nie net Agri SA nie maar die meeste groot landbou-rolspelers gesê het dat ons verkeerd is en dat die Regering nie die kommersiële boerderysektor wil nasionaliseer nie en ook dat die Grondwet dit in elk geval sou voorkom. Ek en my senior beleidskollegas dink dat die meeste landbou-ontleders verkeerd is oor die intensies van die Regering, verkeerd is oor die Grondwet, en verkeerd is om te dink dat openhartige onderhandelinge met die Regering plaasvind. Boere word deur die Regering aan ’n lyntjie gehou.

Behoort boere die saak gewonne te gee en hul plase te verkoop?
Dit is ’n baie ernstige en moeilike vraag. Ek sal sê dat boere ’n realistiese begrip moet ontwikkel van wat die Regering probeer doen en ’n doeltreffende strategie moet ontwikkel om hulle teen die nou voorgestelde onteiening van plase te verweer. Eers wou die Regering 20% van plase hê (deur die Nasionale Ontwikkelingsplan), toe wou hulle 50% hê (deur die 50/50-beleid), en nou soek hulle alles. Hoofstroom-landbou-ontleders het deurentyd vir boere gesê dat alles onder beheer was, dat onderhandelinge aan die gang was, en dat hulle hulle nie moet bekommer nie. Om te glo dat alles inderdaad onder beheer is, is om die ontleders te vertrou wat die hele tyd verkeerd was.

Ek wil nie eendag in ’n posisie wees waar ’n boer vir my sê dat hy en sy familie alles verloor het en dat ons geweet het van die risiko’s, maar niks gedoen het om hulle te waarsku nie. Elke boer moet doen wat hy of sy as reg beskou, maar hulle moet eers oor behoorlike inligting beskik. Ek sal egter ook sê dat indien die regte strategie nou aanvaar word, ’n toekoms vir kommersiële boere verseker kan word.

Wat behoort dié strategie te wees?
* Die eerste punt sal wees om die naïwiteit te beëindig en op te hou om vir boere te sê dat alles sal regkom. Ontwikkel ’n meer skerpsinnige ontleding van die Regering se intensies  en lig boere dienooreenkomstig in oor die risiko’s.

* Die tweede punt is om op te hou onderhandel volgens ’n verwysingsraamwerk wat deur die Regering gestel word. Boere moenie onderhandel oor hoeveel van hul grond afgestaan moet word nie. Verander die onderhandelingsbepalings na hoe ’n toekoms vir kommersiële boere verseker kan word. Om die oorgawe van net een hektaar te bespreek is om die deur oop te maak om alles te verloor.

* Die derde punt is om die stigmatisering van boere teen te werk. Dit gebeur gereeld dat boere beskuldig word van rassisme, dat hulle hul werkers slaan of verkrag, die grond gesteel het, nie minimum lone betaal nie en armoede en ongelykheid veroorsaak, maar geen samehangende strategie word gestel om hierdie uitgangspunte teen te gaan en boere te verdedig nie. Dit is belangrik omdat die stigmatisering, indien dit nie betwis word nie, ’n klimaat skep waarin vyandige beleid kan floreer. Boereverenigings moenie toelaat dat ’n enkele dreigement of verwyt teen ’n boer geslinger word sonder om dit te betwis nie.

*Die vierde is om die beleidsagenda te stel ten einde die huidige neiging van beleid te verander. Ontwikkel unieke nuwe beleide en verkry openbare steun daarvoor.

Daar is dus ’n toekoms vir kommersiële boere?
Die kommersiële boerderybedryf is in ’n baie swakker posisie as tien jaar gelede. Boere is in die media beswadder en het nie die openbare mening aan hulle kant nie. Die gevare is dus baie groot en dit sal eenvoudig dom wees om jouself nie dienooreenkomstig te verskans nie. Indien die vierpunt-strategie waarna ek hierbo verwys het egter met toereikende hulpbronne intelligent geïmplementeer word, is daar nog ’n toekoms vir kommersiële boere en waarskynlik ’n baie positiewe en winsgewende toekoms.

In party opsigte is ons dus op ’n naaldpunt. Volgens huidige tendense kan boere alles verloor. Maar as hulle leer om op te staan agter ’n intelligente en gesofistikeerde beleidstrategie, kan hulle ’n baie positiewe toekoms hê. 

*Frans Cronje is the CEO of the IRR, a think-tank that promotes economical and political freedom. 

Read full article on Landbou here