Frans Cronjé: Eendag sal die EFF weer tuis wees by die ANC – Rapport, 21 November 2015
Deur Frans Cronjé,
Het die EFF ooit die ANC verlaat?
Ek en baie van my senior kollegas glo nie hulle het nie. Hulle het eerder ’n “tak in ballingskap” van die ANC buite die party gestig, in die verwagting dat hulle eendag die geleentheid sal kry om as politieke verlore seuns en dogters “huis toe te gaan” om die beweging oor te neem.
Ons bespeur geen verskil tussen die ANC en die EFF ten opsigte van wat hulle voorstaan nie. Die ANC wil “wit monopolie-kapitalisme” vernietig en die ekonomie onder die beheer van die staat plaas. Die EFF ook. Die EFF glo dat alle private eiendom in die staat gesetel moet wees – ’n sienswyse wat hulle met die ANC deel.
Sowel die ANC as die EFF betoog dat Suid-Afrika se ekonomiese probleme ontstaan het uit die onvermoë om rykdom te herverdeel. Hulle verwerp albei die idee van beleggingsgedrewe groei en ’n privaatsektor-geleide ekonomie wat op die onskendbaarheid van eiendomsreg gebou is.
Nie een van die twee partye glo in persvryheid of die onafhanklikheid van die regbank nie. Die ANC tree gereeld openlik vyandig teenoor albei op. Die EFF is op die oomblik meer versigtig omdat hy ’n mate van media-ondersteuning nodig het om sy politieke doelstellings te bereik en politieke voordeel te put uit die beskerming wat hy tot tyd en wyl van die howe ontvang.
Hul buitelandse beleid is dieselfde. Albei glo die Westerse moondhede het ’n imperialistiese agenda om Suid-Afrika uit te buit. Hulle verkies albei die modelle van Kuba en Venezuela bo dié van byvoorbeeld die Verenigde State.
Waarom het Julius Malema en sy EFF dan die ANC verlaat? Die antwoord is dat hulle dit nooit gedoen het nie. Nadat hul pogings misluk het om die leiding van pres. Jacob Zuma te ondermyn, is hulle geen ander keuse gelaat as om hulle in ballingskap te vestig nie. Dit was ’n persoonlike geveg en geensins ideologies van aard nie. Daar bestaan ook in sekere dele van die ANC groot bitterheid teenoor Zuma omdat hy Malema uitgedwing het.
Hul strategie is nou skynbaar om met die DA saam te werk om die ANC se kiesersmeerderheid in die verkiesings in 2019- of 2024 tot onder 50% te verlaag. Niemand sal daardie verkiesing wen nie. Die ANC kan miskien 49% kry, die DA 30% en die EFF 18%. Dit sal Suid-Afrika in ’n nuwe tydperk van koalisiepolitiek dwing.
Politieke ontleders wat aan die slaap is, sal die oggend ná die verkiesing aankondig dat die ANC “verslaan is”. ’n Paar dae later, wanneer die ANC sy nuwe koalisie met die EFF aankondig waarin Malema die adjunkleier van die nuwe alliansie is, (waardeur hy dan op die amp van adjunkpresident van die land sal kan aanspraak maak), sal dieselfde ontleders besef die ANC is terug. Daarby sal hulle baie magtiger wees as wat hulle voor die verkiesing was omdat hulle dan in werklikheid ’n tweederde-meerderheid in die parlement sal hê – genoeg om aspekte van die Grondwet te verander.
Ek twyfel nie daaraan dat dit die strategie is wat die EFF volg nie.
Die resultate sal natuurlik rampspoedig wees. Die ekonomie sal in duie stort en die meeste demokratiese regte en vryhede sal vernietig word. Met die ineenstorting van die lewenspeil sal die slagoffers hoofsaaklik dieselfde mense wees wat die ANC/EFF ingestem het.
Ek kan net namens myself praat, maar ek sal min simpatie met hulle hê. Hulle sal die gevolge van hul politieke besluite moet dra.
Lees die artikel in Rapport hier.