‘Praat gaan nie help nie – ons soek oplossings’ – Rapport, 26 April 2015
Dit lyk asof Mmusi Maimane vir seker die volgende leier van die opposisie sal wees. Baie mense kritiseer sy gebrek aan politieke ervaring, maar die DA het oorgenoeg bekwame strategiese leiers wat hom kan help. Wat belangrik is, is waarheen mnr Maimane die DA beleidsgewys sal lei. Ek het mnr Maimane gevra om in sy eie woorde hierop te antwoord met die volgende vyf vrae.
FC: Jong swart Suid-Afrikaners is taamlik onbillik behandel met die 1994-oorgang deurdat meer as 50% van hulle werkloos is en minder as die helfte van hulle matrikuleer. Hoe antwoord u hulle wanneer hulle te kenne gee dat hulle kwaad is en aandring op radikale transformasie?
Baie jong swart Suid-Afrikaners bly uitgesluit van ekonomiese geleenthede weens minderwaardige onderwys, maar populistiese retoriek sal nie die probleem oplos nie. Ons het volhoubare oplossings nodig. Ons het ’n betroubare ekonomiese infrastruktuur nodig. Ons het belastingaansporings nodig sodat gevestigde sakelui aan mentorskapprogramme kan deelneem. Ons het ’n Nasionale Risikokapitaalfonds nodig om nuwe besighede te help vestig. Ons moet geleentheidsentra daarstel waar advies en ondersteuning geredelik beskikbaar is. Ons het ’n werklike jeugloonsubsidie nodig waarby selfs die kleinste sakeondernemings baat kan vind.
FC: Ondanks hul relatief bevoorregte sosio-ekonomiese status is baie wit mense ook kwaad. Wat antwoord u wanneer hulle wil weet of daar vir hulle ’n toekoms in SA is?
Ons hoop lê daarin om midde-in ons politiek ’n nierassige werktuig te bou wat die regte van elke persoon verdedig en bevorder. Hoe groter die DA, en hoe meer uiteenlopend ons ondersteuningsbasis, hoe beter is ons kans om die ANC om sy magsposisie uit te daag. Dit is my doel om die DA na die volgende vlak te neem.
FC: ’n Aantal medium en groot sakeondernemings het ons meegedeel dat arbeidswetgewing, vakbondoptrede, bemagtigingsbeleid en dreigemente oor eiendomsregte hulle uit Suid-Afrika dryf. Wat moet ons doen om hulle terug te bring?
Ons moet die arbeidsmark dereguleer om werkskepping makliker te maak en ons moet verantwoordelike vakbondwese aanmoedig. Ons het bemagtigingsbeleide nodig wat sakeondernemings aanspoor om werk te skep eerder as om voortdurend dieselfde uitgesonderde minderheid te bemagtig. Ons moet eiendomsreg meer as ooit beskerm, want sonder geborge eiendomsregte sal ons ekonomie misluk en sal almal slegter daaraan toe wees.
FC: Beter bemagtigingsbeleid is noodsaaklik, maar is ras die regte kriterium waaromheen hierdie beleide gebou moet word of moet ons wegdoen met ras ten gunste van meetbare sosio-ekonomiese nadeel?
Ons uitdaging is om maatreëls in te stel om hierdie onreg te herstel sonder om nuwe vorme van rassediskriminasie te verskans. Dit is waarom ons raskwotas verwerp en opheffing van mense deur die skep van meer geleenthede, verkies. Voortgesette armoede en werkloosheid moet reggestel word deur gehalte onderwys aan alle kinders te bied en meer werkgeleenthede deur ekonomiese groei te skep.
FC: Waar dink u van die argument dat die gewillige koper-verkopermodel van grondhervorming misluk het en dat die staat tussenbeide moet tree om grond te onteien?
Ek stem nie saam met dié argument nie. Dit is die staat wat deur sy eie administratiewe onbevoegdheid misluk het met die implementering van die gewillige koper-verkopermodel. Onteiening sonder vergoeding is die sekerste manier om ons ekonomie te vernietig. Ons moet liewer die kapasiteit van die staat vergroot om regverdige en volhoubare grondhervorming te implementeer. Ek ondersteun veral vrywillige plaasekwiteitskemas wat aan werkers ’n inset gee in die grond waarop hulle werk.